Ons Bloukraanvoëls was in die kollig die afgelope paar weke, en n hoogtepunt was die publikasie van die artikel oor die vennootskap tussen die Overberg Kraanvoël Groep en die Boere van die Overberg. Dit is n storie van hoop, en was gepubliseer in Suid Afrika se vooraanstaande landbou tydskrif, Landbou Weekblad. Dit het ook op voorblad van die 20ste April 2018 se uitgawe gepryk!

Deesdae hoor n mens meestal van die groot ikoniese spesies soos renosters, olifante en leeus in die nuus – en meestal is die werklikheid maar baie teneerdrukkend. Daar is wel n hele paar suksesverhale in bewaring, regoor ons land, maar n mens hoor maar bitter min van hulle. Ons kon nie die kans laat verbygaan om hierdie besonderse bewarings mylpaal van een van Suid Afrika se mees ikoniese voël spesies te vier nie.

Hoop julle geniet die artikel net soveel as wat ons dit geniet het om dit te pen!

Bloukraanvoëls wat weens habitatsverlies na plase trek, kan boerderywins ’n knou gee. Toe dit egter blyk dat daar minder bloukraanvoëls as renosters in Suid-Afrika oor is, het Overbergse boere met bewaringsinstellings saamgewerk om Suid-Afrika se nasionale voël te help bewaar.

Volgens die internasionale natuurbewarings­liggaam IUCN se rooidatalys is die blou-kraanvoël kwesbaar. Die helfte van die totale vrylewende bloukraanvoëlbevolking word in die Overberg en Swartland aangetref, en bykans al die voëls loop op private grond.

Bloukraanvoëls (Anthropoides paradi­seus) is endemies aan Suider-Afrika en sowat 99% van die totale bevolking kom in Suid-Afrika voor.

Histories was daar honderdduisende voëls in die land. Vanaf 1978 tot 1998 het die bevolking oor Suider-Afrika heen met 80% gekrimp. In 1993 is sowat 20 800 vrylewende bloukraanvoëls getel, en teen 1998 was daar net sowat 16 000 — die bevolking was selfs kleiner as dié van Suid-Afrika se renosters. Habitattransformasie was veral vir dié afname verantwoordelik. Nog ’n oorsaak was opsetlike of onbedoelde, grootskaal­se vergiftiging nadat die voëls uit hul na­tuurlike habitat gedryf is en regstreeks met die landbou meegeding het.

Dié afwaartse neiging is in 2003 om-gekeer. Vandag is daar sowat 25 500 vrylewende voëls oor, veral in die Wes-Kaap, waar ’n gunstige bewaringsgesind­heid teenoor die voëls gekweek word.

Die Trust vir Bedreigde Dierelewe (EWT), wat navorsing oor dié voël behartig, het met die samewerking van die Overbergse Kraan­voëlgroep (OKG) ’n bewusmakingsveldtog aangepak sodat plaaslike boere ’n veilige heenkome vir die bloukraanvoël kan bied.

Dit kom nadat grootskaalse vergiftiging deur veral boere in die 80’s en 90’s die blou-kraanvoëlbevolking kwaai laat daal het. Hoe­wel groot getalle bloukraanvoëls natuurlike plaagbestryders is deurdat hulle hul kos met insekte en rotte aanvul, vreet hulle graan­gewasse en voer wat vir kuddes uitgesit is. Hulle kan ook groeiende gewasse vertrap.

Mnr. Keir Lynch, voorsitter van die OKG, sê hulle is dankbaar vir die boere se samewerking.

Die grootste bedreiging vir voëls in die Overberg is botsings met oorhoofse krag­drade en verstrengelings in heiningsdraad. Boere lig die OKG in oor sulke voorvalle, wat dit aanteken en Eskom in kennis stel. Die opstel van vlaggies of geel metaalflappe op kragdrade maak dit dan meer sigbaar vir voëls. Met grondeienaars se samewerking word probleemheinings ook óf verwyder óf meer sigbaar gemaak. Boonop vang en vervoer boere gereeld beseerde voëls na veeartse – dikwels op eie onkoste.

Mnr. Dirkie Uys, ’n boer van Komarsekraal in die Rûens, sê hy kyk na die bloukraanvoëls op sy plaas net soos hy na sy kuddes omsien.

“Die bloukraanvoëls op ons plase is ons nalatenskap. Hul bewaring is ons verant­woordelikheid, want ek moet eienaarskap van dít wat op my plaas is, aanvaar.

“Die bewaring van die voëls hou nie by my en my gesin op nie. My plaasmense ken bloukraanvoëls en weet waarvoor om hul oë oop te hou. Hulle hou jong, twee maande oue kuikens dop wat nie kan vlieg of wegkruip nie, want as hulle skrik, raak hulle in die drade verstrengel en moet gehelp word.

Dirkie sê die werkers help gereeld beseerde voëls. “Die plaasmense het selfs al van die voëls na my kinders genoem en is net so opgewonde oor die ses kuikens wat vanjaar op my plaas uitgebroei het as wat ek is.

“Ons is dit aan ons toekomstige geslagte verskuldig om seker te maak dat dié statige voëls voortbestaan,” sê Keir.

Die OKG doen ’n beroep op die publiek om botsings en ver­strengelings aan te meld.

Landbou Weekblad,№ 2051, 20 April 2018.

Skrywe: ALOUISE LYNCH. 

Fotos: Kina Joubert.

NAVRAE: E-pos: support@bluecrane.org.za; donate@bluecrane.org.za; SMS 084 369 0969